Die Aqdas verklaar: ,Ons het julle gebied om te bid en te vas vanaf die begin van rypheid [15 jaar]; dit is deur God verorden, julle Here en die Here van julle voorvaders. . . .Die reisiger, die sieke, diegene wat swanger is of wat soog, word nie deur die vas verplig nie. . . .Bly weg van voedsel en drink niks nie, van sonop tot sonsondergang, en wees op julle hoede dat begeerlikheid julle nie beroof van hierdie genade wat in die Boek bepaal is nie.'
Die tydperk van die Vas is van en met 2 tot 20 Maart.
Ek smeek U, o my God, by U magtige Teken, en by die openbaring van U genade onder die mense, om my nie van die poort van die stad van U teenwoordigheid weg te werp nie, en die verwagtinge nie teleur te stel wat ek op die openbaringe van U genade onder U skepsels gesit het nie. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by U soetste Stem en by U mees verhewe Woord, om my steeds nader aan die drumpel van U deur te trek, en my nie toe te laat om ver van die skaduwee van U genade en die troonhemel van U mildheid verwyder te wees nie. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by die prag van U stralende voorhoof en die helderheid van die lig van U gelaat, wat van die allerhoogste horison skyn, om my met die geur van U gewaad aan te trek, en te maak dat ek van die uitgelese wyn van U woorde mag drink. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by U hare wat oor U gelaat beweeg, net soos U mees verhewe pen oor die bladsye van U Tafels beweeg, en die muskus van die verborge betekenisse oor die koninkryk van U skepping versprei, om my só op te hef om U Saak te dien, dat ek nie sal terugval nie, nòg verhinder sal word deur die suggesties van diegene wat op U tekens gevit het en van U gelaat weggedraai het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by U Naam wat U die Koning van Name gemaak het, waardeur almal wat in die hemel en op aarde is verruk geword het, om my in staat te stel om my oë op die Dagster van U Prag te vestig, en my te voorsien van die wyn van U woorde. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by die Tabernakel van U majesteit op die hoogste bergspitse, en die Troonhemel van U Openbaring op die verhewenste heuwels, om my genadiglik te help om te doen wat U wil gewens het en U voorneme geopenbaar het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by U Prag wat bo die horison van die ewigheid voortskyn, ’n Prag waarvoor sodra dit sigself onthul die koninkryk van prag neerbuig in aanbidding, en dit verheerlik met klinkende klanke, om te gee dat ek aan alles wat ek besit mag sterwe en vir wat ook al aan U behoort mag lewe. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by die Openbaarwording van U Naam, die Dierbare, deur Wie die harte van U liefhebbers verteer is en die siele van almal wat op die aarde woon omhoog gesweef het, om my te help om U te gedenk onder U skepsels, en om U onder U mense te prys. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by die ritseling van die Goddelike Lotusboom en die gemurmel van die luggies van U woord in die koninkryk van U name, om my ver weg te verwyder van wat ook al U wil verafsku, en my nader te laat kom aan die stand waarin Hy Wat die Daeraad van U tekens is voortgeskyn het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by daardie Letter wat, sodra dit uit die mond van U wil gegaan het, die oseane laat golf het, en die winde laat waai het, en die vrugte geopenbaar het, en die bome laat voortspruit het, en alles sluiers uitmekaar laat skeur het, en dié wat aan U toegewy is laat haas het na die lig van die gelaat van hulle Here, die Ongedwonge, om aan my dit bekend te maak wat weggesteek gelê het in die skatkiste van U kennis en verborge was binne die bewaarplekke van U wysheid. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by die vuur van U liefde wat die slaap uit die oë van U gekosenes en U bemindes verdryf het, en by hulle aandenking en lof van U by die aanbreek van die dag, om my saam met diegene te tel wat dit behaal het wat U in U Boek laat daal het en deur U wil geopenbaar het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by die lig van U gelaat wat diegene wat na aan U is aangespoor het om die pyle van U bevel tegemoet te kom, en diegene wat aan U toegewy is om die swaarde van U vyande in U weg onder die oë te sien, om vir my met U mees verhewe Pen dit neer te skryf wat U vir U vertroudes en U verkorenes neergeskryf het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in hierdie wêreld en die wêreld wat kom vasgekleef het.
Ek smeek U, o my God, by U Naam waardeur U na die roepstem van U bemindes geluister het, en die sugte van diegene wat na U verlang, en die geroep van diegene wat nabye toegang tot U geniet, en die gekreun van hulle wat aan U toegewy is, en waardeur U die begeertes van hulle vervul het wat hul verwagtinge op U gesit het, en hulle verlange toegestaan het, deur U genade en gunste, en by U Naam waardeur die oseaan van vergifnis voor U aangesig gegolf het, en die wolke van U milddadigheid op U dienaars afgereent het, om vir elkeen wat na U gekeer het, en die vas deur U voorgeskryf onderhou het, dié vergoeding neer te skryf wat vir diegene beskik is wat nie praat behalwe met U toestemming nie, en wat alles wat hulle besit het in U weg en uit liefde vir U verlaat het.
Ek smeek U, o my Here, by Uself, en by U tekens, en by U helder kentekens, en by die skynende Lig van die Dagster van U Prag, en U Takke, om die oortredings uit te wis van diegene wat aan U wette vasgehou het, en onderhou het wat U vir hulle in U Boek voorgeskryf het. U sien my, o my God, hou vas aan U Naam, die Mees Heilige, die Mees Liggewende, die Mees Magtige, die Mees Grote, die Mees Verhewe, die Mees Roemryke, en kleef vas aan die soom van die mantel waaraan almal in die wêreld en in die wêreld wat kom vasgekleef het.