Prayers & Meditations
Afrikaans ·
OM EENMAAL IN ELKE VIER-EN-TWINTIG UUR GESÊ TE WORD
Wie ook wens om hierdie gebed te sê, laat hom opstaan en na God toe keer, en, terwyl hy op sy plek staan, laat hom na regs en na links kyk, asof hy die genade van sy God verwag, die Genadevolste, die Medelydende. Laat hom dan sê:
O U Wat die Here van alle name is en die Maker van die hemele! Ek smeek U by hulle Wat die Daerade van U onsigbare Wese is, die Mees Verhewe, die Alglorieryke, om van me gebed ’n vuur te maak wat die sluiers sal verbrand wat my van U prag uitgesluit het, en ’n lig wat my na die oseaan van U Teenwoordigheid sal lei.
- Laat hom dan sy hande in smeking na God ophef - geseën en verhewe is Hy - en sê:
O U die Begeerte van die wêreld en die Geliefde van die nasies! U sien dat ek my na U toe rig, en, bevry van alle gehegtheid aan iemand behalwe U, vashou aan U koord, deur wie se beweging die hele skepping omgeroer is. Ek is U dienaar, o my Here, en die seun van U dienaar. Aanskou my, gereed staande om U wil en U begeerte te doen, en niks anders wensende as U welbehae nie. Ek smeek U by die Oseaan van U genade en die Dagster van U guns om met U dienaar te doen na U wil en bahae. By u mag wat ver bo alle melding en lof is! Wat ook al deur U geopenbaar is, is die begeerte van my hart en die beminde van my siel. O God, my God! Kyk nie na my verwagtinge en my dade nie, nee kyk liewer na U wil wat die hemele en die aarde omvat het. By U Allergrootste Naam, o U die Here van alle nasies! Ek het net begeer wat U begeer het, en bemin net wat U bemin.
- Laat hom dan kniel, sy voorhoof na die grond buig, en sê:
Verhewe is U bo die beskrywing van iemand anders as Uself, en die begrip van wat ook al behalwe U.
- Laat hom dan opstaan en sê:
Maak my gebed, o my Here, ’n fontein van lewende waters waarvan ek so lank mag lewe as wat U oppermag bly bestaan, en melding van U mag maak in elke wêreld van U wêrelde.
- Laat hom weer eens sy hande in smeking ophef, en sê:
O U in afsondering van Wie harte en siele gesmelt het, en by die vuur van Wie se liefde die hele wêreld ontbrand het! Ek smeek U by U Naam waardeur U die hele skepping onderwerp het, om nie dit van my weg te hou wat by U is nie, o U Wat oor alle mense regeer! U sien, o my Here, hierdie vreemdeling hom haas na sy verhewenste tuiste onder die grense van U genade; en hierdie oortreder soek die oseaan van U vergifnis; en hierdie nederige een die voorhof van U heerlikheid; en hierdie arme skepsel die daeraad van U rykdom. Aan U is die gesag om te gebied wat U ook al wil. Ek getuig dat U geroem behoort te word in U werke, en gehoorsaam te word in U opdrae, en onbevange te bly in U gebod.
Laat hom dan sy hande ophef, en drie maal die Grootste Naam1 herhaal. Laat hom dan met hande rustende op die knieë neerbuig voor God - geseën en verhewe is Hy - en sê:
U sien, o my God, hoe my gees binne my ledemate en liggaamsdele opgewek is, in my verlange om U te aanbid, en in sy hunkering om U te onthou en U te loof; hoe dit getuig van dit waarvan die Tong van U Gebod getuig het in die koninkryk van U woorde en in die hemel van U kennis. In hierdie staat, o my Here, smeek ek U graag om alles wat by U is, sodat ek my armoede kan toon, en U mildheid en U rykdom mag verheerlik, en my magteloosheid mag bekend maak, en U krag en U mag openbaar.
- Laat hom dan opstaan en sy hande twee maal in smeking ophef, en sê:
Daar is geen God behalwe U nie, die Almagtige, die Almilddadige. Daar is geen God behalwe U nie, die Verordenaar, sowel in die begin as aan die einde. O God, my God! U vergifnis het my verstout, en U genade het my gesterk, en U roepstem het my wakker gemaak, en U guns het my opgehef en my na U gelei. Wie anders is ek dan dat ek sou durf om by die hek van die stad van U nabyheid te staan, of my gesig te rig na die ligte wat skyn uit die hemel van U wil? U sien, o my Here, hierdie armsalige skepsel klop aan die deur van U guns, en hierdie vlugtige siel soek die rivier van die ewige lewe van die hande van U mildheid. Aan U kom toe die gesag te alle tye, o U Wat die Here van alle name is; en aan my kop toe die oorgawe en gewillige onderwerping aan U wil, o Skepper van die hemele!
- Laat hom dan sy hande drie maal ophef, en sê:
Groter is God as elke groot een!
- Laat hom dan kniel, sy kop na die grond buig en sê:
Te hoog is U vir die lof van diegene wat naby U is om na die hemel van U nabyheid te styg, of vir die voëls van die harte van hulle wat aan U toegewy is om die deur van U poort te bereik. Ek getuig dat U geheilig is bo alle eienskappe en heilig is bo alle name. Geen God is daar behalwe U nie, die Verhewenste, die Alglorieryke.
- Laat hom dan gaan sit en sê:
Ek getuig van dit waarvan alle geskape dinge getuig het, en die Menigte in die hoogte, en die huisgenote van die allerhoogste Paradys, en bo hulle die Tong van Grootheid Self vanaf die alglorieryke Horison, dat U God is, dat daar geen God behalwe U is nie, en dat Hy Wat geopenbaar is die Verborge Geheim is, die Kosbare Simbool, deur Wie die letters W en S (Wees) verenig en saamgebind is. Ek getuig dat dit Hy is Wie se naam deur die Pen van die Allerhoogste neergeskryf is, en Wat in die Boeke van God vermeld is, die Heer van die Troon in die hoogte en onder op aarde.
- Laat hom dan regop staan en sê:
O Here van alle wesens en die Besitter van alle sigbare en onsigbare dinge! U gewaar my trane en die sugte wat ek slaak, en hoor my kreune, en my weeklag, en die gejammer van my hart. By u mag! My oortredings het my teruggehou om U te nader; en my sondes het my ver van die voorhof van U heiligheid gehou. U liefde, o my Here, het my verryk, en afskeiding van U het my vernietig, en verheid van U het my verteer. Ek smeek U by U voetstappe in die wildernis, en by die woorde “Hier is Ek”, wat U Uitverkorenes in hierdie ontsaglikheid geuit het, en by die adems van U Openbaring,en die sagte luggies van die Dagbreek van U Openbaarwording, om te beskik dat ek op U prag mag kyk, en onderhou wat ook al in U Boek is.
- Laat hom dan die Grootste Naam drie maal herhaal, en neerbuig met hande op die knieë rustende, en së:
Lof sy aan U, o my God, dat U my gehelp het om U te onthou en U te loof, en Hom aan my bekend gemaak het Wat die Daeraad van U tekens is, en my voor U Heerskappy laat neerbuig het, en myself laat verootmoedig het voor U Godheid, en dit laat erken het wat deur die Tong van U grootheid uitgespreek is.
Laat hom dan opstaan en sê:
O God, my God! My rug is gebuig deur die las van my sondes, en my agtelosigheid het my vernietig. Elke keer wanneer ek oor my bose dade en U welwillendheid dink, smelt my hart binne-in my, en kook my bloed in my are. By U Prag, o U die Begeerte van die wêreld! Ek bloos om my gesig na U op te hef, en my verlangende hande is skaam om na die hemel van U mildheid uit te strek. U sien, o my God, hoe my trane my verhinder om U te onthou en U deugde te loof, o U die Here van die Troon in die hoogte en onder op die aarde! Ek smeek U by die tekens van U koninkryk en by die verborgenhede van U Heerskappy om met U bemindes te doen soos dit U mildheid betaam, o Here van alle wese, en U genade waardig is, o Koning van die gesiene en die ongesiene!
- Laat hom dan die Grootste Naam drie maal herhaal, en kniel met sy voorhoof op die grond, en sê:
Lof sy aan U, o onse God, dat U dit op ons laat daal het wat ons na aan U trek, en ons van elke goeie dinge voorsien wat deur U in U Boeke en U Geskrifte laat daal is. Beskerm ons, ons smeekl U, o my Here, teen die menigtes van nuttelose inbeeldings en ydele verbeeldings. U, in der waarheid, is die Magtige, die Alwetende.
- Laat hom dan sy hoof ophef, gaan sit, en sê:
Ek getuig, o my God, van dit waarvan U Verkorenes getuig het, en erken dit wat die huisgenote van die allerhoogste Paradys en diegene wat rondom U magtige Troon rondgedraai het, erken het. Die koninkryke van die aarde en hemel is die Uwe, o Here van die wêrelde!
- Naw-Rúz, 21 Maart, is die eerste dag van die Bahá’í jaar.
Gelof sy U, o my God, dat U Naw-Rúz as ’n feesdag ingestel het vir diegene wat uit liefde vir U die vas onderhou het en van alles wat vir U verafskuwend is weggebly het. Gee, o my Here, dat die vuur van U liefde en die hitte voortgebring deur die vas wat deur U gelas is, hulle in U Saak mag laat ontbrand, en maak dat hulle met U lof en met aandenking aan U besig mag wees.
Aangesien U hulle versier het, o my Here, met die sieraad van die vas deur U voorgeskrywe, versier U hulle ook met die sieraad vaan U aanvaarding, deur U genade en milddadige guns. Want die dade van mense is alles afhanklik van U welbehae, en is deur U opdrag bepaal. Sou U hom wat die vas gebreek het beskou as een wat dit onderhou het, sou so iemand onder hulle gereken word wat die vas aan ewigheid gehou het. En sou U bepaal dat hy wat die vas onderhou het dit gebreek het, sou daardie persoon onder diegene getel word wat die Gewaad van U Openbaring met stof laat bevlek het, en ver verwyder was van die kristalwaters van hierdie lewende Fontein.
U is Hy deur Wie die vaandel ,Prysenswaardig is U in U werke’ opgehys is, em die standaard ,Gehoorsaam word U in U opdrag’ ontplooi is. Maak hierdie U stand bekend aan U dienaars, o my God, sodat hulle bewus gemaak mag word dat die voortreflikheid van alle dinge afhanklik van U bevel en U woord is, en die deug van elke daad bepaal word deur U verlof en die welbehae van U wil, en mag herken dat die teuels van mense se werke binne die greep van U aanvaarding en U gebod is. Maak dit aan hulle bekend, sodat hoegenaamd niks hulle van U Prag kan uitsluit nie, in hierdie dae waarop die Christus uitroep: ,Alle heerskappy sy aan U, o U die Bes-Beminde, omdat U U Prag blootgestel het, en vir U uitverkorenes neergeskryf het wat sal maak dat hulle die setel van die openbaring van U Allergrootste Naam sal behaal, waardeur al die volke gekla het behalwe diegene wat hulle van alles behalwe U losgemaak het, en hulself gerig het na Hom Wat die Onthuller van Uself is en die Openbaarwording van U eienskappe.'
Hy Wat U Tak is en al U deelgenootskap, o my Here, het hierdie dag hulle vas gebreek, nadat hulle dit binne die omgewing van U hof onderhou het, en in hulle ywer om U te behaag. Beskik U vir Hom, en vir hulle, en vir diegene wat U teenwoordigheid in daardie dae binnegegaan het, al die goeie wat U in U Boek bestem het. Voorsien hulle dan van dit wat hulle sal bevoordeel beide in hierdie lewe en in die lewe hiernamaals.
U is in der waarheid die Alwetende, die Alwyse.
OM DAAGLIKS GESÊ TE WORD, IN DIE OGGEND,
OP DIE MIDDAGUUR, EN IN DIE AAND
Wie ook al wens om te bid, laat hom sy hande was, en terwyl hy was, laat hom sê:
Sterk my hand, o my God, sodat dit U boek met sulke standvastigheid mag vat dat die skares van die wêreld geen mag daaroor sal hê nie. Behoed dit, dan, van bemoeiing met wat ook al nie daaraan behoort nie. U is, voorwaar, die Almagtige, die Kragtigste.
En terwyl hy sy gesig was, laat hom sê:
Ek het my gesig na U toegedraai, o my Here! Verlig dit met die lig van U gelaat. Beskerm dit, dan, teen wending na iemand behalwe U.
Laat hom dan opstaan, en met sy gesig na die Qiblih (die Punt van Aanbidding, d.w.s. Bahjí, ‘Akká) gerig, laat hom sê:
God getuig dat daar geen ander God behalwe Hom is nie. Aan Hom behoort die koninkryke van Openbaring en van skepping. Hy, in der waarheid, het Hom geopenbaar Wat die Daeraad van Openbaring is, Wat op Sinaï gepraat het, deur Wie die Hoogste Horison tot skyning gebring is, en die Lotusboom, oorkant waarvan daar geen verbygaan is nie, gepraat het, en deur Wie die geroep aan almal wat in die hemel en op aarde is verkonding is: ‘Kyk, die Alles-Besittende het gekom. Aarde en hemel, heerlikheid en heerskappy is God s’n, die Here van alle mense en die Besitter van die Troon in die hoogte en benede op aarde!’
Laat hom dan neerbuig, met hande op die knieë rustende, en sê:
Verhewe is U bo my lof en die lof van iedereen buiten my, bo my beskrywing en die beskrywing van almal wat in die hemel is en almal wat op die aarde is!
Laat hom dan staan met oop hande, palms bo na die gesig, en sê:
Stel hom nie teleur nie, o my God, wat met smekende vingers aan die soom van U genade en U guns vasgehou het, o U Wat van diegene wat genade bewys die Allergenadigste is!
Laat hom dan gaan sit en sê:
Ek getuig van U eenheid en U enkelvoudigheid, en dat U God is, en dat daar geen ander God behalwe U is nie. U het, voorwaar, U Saak onthul, U Verbond vervul, en die deur van U guns aan almal wat in die hemel en op aarde woon wyd oopgemaak. Seën en vrede, begroeting en heerlikheid rus op U bemindes, wat die lotswisselinge van die wêreld nie teruggehou het om na U te keer nie, en wat hulle alles gegee het, in die verwagting om dit te bekom wat by U is. U is in der waarheid, die Altyd-Vergewende, die Almilddadige.
Sou iemand verkies om pleks van die lang vers hierdie woorde te sê: God getuig dat daar geen ander God behalwe Hom is nie, die Hukp in Gevaar, die Selfbestaande, sou dit toereikend wees. En op dieselfde manier, sou dit voldoende wees sou hy, terwyl hy sit, verkies om hierdie woorde te sê: Ek getuig van U eenheid en U enkelvoudigheid, en dat U God is, en dat daar geen ander God behalwe U is nie.
Geloof sy Y, o Here my God! Ek smeek U, by U Naam wat niemand passend geëien het, en wie se belangrikheid geen siel deurgrond het nie; ek smeek U, by Hom Wat die Fontein van U Openbaring is en die Daeraad van U tekens, om my hart ’n houer van U liefde en van aandenking aan U te maak. Bind dit dan met U allergrootste Oseaan saam, dat die lewende waters van U wysheid en die kristalstrome van U verheerliking en lof daaruit mag vloei.
Die ledemate van my liggaam getuig van U eenheid, en die hare van my kop verklaar die krag van U soewereiniteit en mag. Ek het by die deur van U genade met volkome terughoudendheid en algehele ontsegging gestaan, en vasgehou aan die soom van U goedertierenheid, en het my oë op die horison van U gawes gevestig.
Bestem U vir my, o my God, wat die grootheid van U majesteit betaam, en help my, met U versterkende genade, om U Saak só te verkondig dat die dooies uit hulle grafte mag spoed, en na U voortsnel, geheel in U vertrouende, met hulle blik gerig op die orient van U Saak en waar die lig van U Openbaring opgaan.
U is, voorwaar, die Allerkragtigste, die Allerhoogste, die Alwetende, die Alwyse.
O my God! O my God! U sien my in my nederigheid en swakheid, besig met die grootste onderneming, vasberade om U woord onder die massa te verhef en U leer onder U volke te versprei. Hoe kan ek slaag tensy U my bystaan met die asem van die Heilige Gees, my help om te seëvier met die skares van U glorieryke koninkryk, en U bevestiging op my stort wat alleen ’n muggie in ’n arend kan verander, ’n druppel water in riviere en seë, en ’n atoom in ligte en sonne? O my Here! Steun my met U seëvierende en werkdadige mag, sodat my tong U lofsprake en eienskappe onder alle mense mag verkondig, en my siel van die wyn van U liefde en kennis mag oorloop.
U is die Alvermoënde en die Doener van wat ook al U wens.
Geprys en verheerlik word U, o my God! Ek smeek U by die sugtinge van U liefhebbers en by die trane deur diegene vergiet wat verlang om U te sien, om nie U tere genade van my in U Dag weg te hou nie, nòg my die melodieë te ontneem van die Duif wat U eenheid loof voor die lig wat van U aangesig skyn. Ek is die een wat in ellende is, o God! Aanskou my, ek hou vas aan U Naam, die Alles-Besittende. Ek is die een wat sekerlik sal vergaan; aanskou my ek kleef vas aan U Naam, die Onverganklike. Ek smeek U dus, by U Self, die Verhewene, die Allerhoogste, om my nie aan my self en aan die begeertes van ’n bedorwe neiging oor te gee nie. Hou U my hand met die hand van U krag, en verlos my uit die dieptes van my versinsels en ydele inbeeldings, en reinig my van alles wat vir U afstootlik is.
Laat my dan geheel en al na U keer, om my hele vertroue in U te plaas, om U as my Skuilplek te soek, en na U gelaat te vlug. U is, voorwaar, Hy Wat, deur die Sterkte van Sy mag, doen wat Hy ook al wens, en deur die vermoë van Sy wil, beveel wat Hy ook al verkies. Niemand kan die werking van U verordeninge weerstaan nie; niemand kan die koers van U bepaling afwend nie. U is, in der waarheid, die Almagtige, die Alglorieryke, die Mees Milddadige.
Ek weet nie, o my God, wat die Vuur is wat U in U land aangesteek het nie. Aarde kan nooit sy luister vertroebel nie, nòg water sy vlam blus nie. Al die mense van die wêreld is magteloos om sy krag te weerstaan. Groot is die geluksaligheid van hom wat nader daarnda gekom het, en sy gedreun gehoor het.
Sommige, o my God, het U, deur middel van U steunende genade, in staat gestel om dit te nader, terwyl U andere teruggehou het vanweë wat hulle hande in U dae bewerkstellig het. Wie ook al hom daarna gehaas het en dit behaal het, het, in sy ywer om u prag te aanskou, sy lewe in U weg afgestaan, en na U opgestyg, geheel en al van alles behalwe Uself losgemaak.
Ek smeek U, o my Here, by hierdie Vuur wat in die wêreld van die skepping vlam en woed, om die sluiers uitmekaar te skeur wat my verhinder het om voor die troon van U majesteit te verskyn, en by die deur van U poort te staan. Beskik U vir my, o my Here, iedere goeie ding wat U in U Boek laat daal het, en laat my nie ver weg van die skuiling van U genade verwyder wees nie.
Kragtig is U om te doen wat U behaag. U is, voorwaar, die Almagtige, die Mees Vrygewige.
Van die welriekende strome van U ewigheid, gee my te drink, o my God, en van die vrugte van die boom van U wese stel my in staat om te proe, o my Hoop! Van die kristalfonteine van U liefde laat my drink, o my Glorie, en onder die skaduwee van U ewige voorsienigheid laat my woon, o my Lig! Binne die weiland van U nabyheid in U teenwoordigheid, maak dit moontlik vir my om te swerf, o my Beminde, en aan die regterhand van die troon van U genade, laat my sit, o my Begeerte! Van die welriekende luggies van U vreugde laat ’n sug oor my gaan, o my Doel, en na die hoogtes van die paradys van U werklikheid laat my toegang verkry, o my Vereerde Een! Laat my na die melodieë van die duif van U eenheid luister, o Luisterryke Een, en deur die gees van U krag en U mag verlewendig my, o my Versorger! In die gees van U liefde hou my standvastig, o my Helper, en in die pad van U welbehae maak my voetstappe stewig, o my Skepper! Binnekant die tuin van U onsterflikheid, voor U aangesig laat my vir ewig vertoef, o U Wat barmhartig aan my is, en op die setel van U glorie vestig my, o U Wat my Besitter is! Na die hemel van U vriendelike geodheid hef my op, o my Verlewendiger, en na die Dagster van U voorligting lei my, o U my Aantrekker! Voor die openbaringe van U onsigbare gees, laat my roep om teenwoordig te wees, o U Wat my Oorsprong en my Hoogste Wens is, en laat my terugkeer na die wese van die geur van U prag, wat U sal duidelik maak, o U Wat my God is!
Sterk is U om te doen wat U behaag. U is, voorwaar, die Mees Verhewe, die Alglorieryke, die Allerhoogste.
Verheerlik sy U, o Here my God! Ek smeek U by U Uitverkorenes, en by die Draers van Wat U aan Hulle toevertrou het, en by Hom Wat U verorden het om die Seël van U Profete en U Boodskappers te wees, om U aandenking my deelgenoot te maak, en U liefde my oogmerk, en U aangesig my doel, en U naam my lamp, en U wens my begeerte, en U plesier my behae.
Ek is ’n sondaar, o my Here, en U is die Immer-Vergewende. Sodra ek U herken het, het ek my bespoedig om die verhewe voorhof van U vriendelike goedheid te bereik. Vergewe my, o my Here, my sondes, wat my verhinder het om in die weë van U welbehae te wandel, en om doe oewers van die oseaan van U eenheid te bereik.
Daar is niemand, o my Here, wat milddadig met my kan handel aan wie ek my gelaat kan wend nie, en geeneen wat medelye vir my kan hê dat ek sy genade mag afsmeek nie. Ek smeek U, werp my nie uit die teenwoordigheid van U guns nie, en weerhou ook nie die uitstortings van U vrygewigheid en milddadigheid van my nie. Beskik vir my, o my Here, wat U vir diegene wat U bemin beskik het, en skryf vir my neer wat U vir U verkorenes neergeskryf het. My blik was, te alle tye, op die horison van U genadige voorsienigheid gerig, en my oë op die hof van U tere genadighede. Handel met my soos dit U betaam. Geen God is daar behalwe U nie, die God van mag, die God van glorie, Wie se hulp deur alle mense gesmeek word.
Geloof sy U, o Here my God! U sien en weet dat ek ’n beroep op U dienaars gedoen het om nêrens behalwe in die rigting van U skenkings te keer nie, en hulle gevra het om niks behalwe die dinge wat U in U duidelike Boek voorgeskryf het na te kom nie, die Boek wat neergestuur is volgens U ondeurgrondelike verordening en onherroeplike doeleinde.
Ek kan geen woord uiter nie, o my God, tensy ek deur U toegelaat word nie, en kan in geen rigting beweeg voordat ek U goedkeuring verkry nie. Dit is U, o my God, Wat my deur die vermoë van U mag in die lewe geroep het, en my van U genade voorsien het om U Saak te openbaar. Daarom is ek aan sodanige teenspoede onderworpe dat my tong verhinder is om U te verheerlik en om U glorie groot te maak.
Alle lof sy aan U, o my God, vir die dinge wat U vir my beskik het deur U verordeningen deur die krag van U oppermag. Ek smeek U dat U albei myself en diegene wat my bemin, in ons liefde vir U sal versterk, en ons standvastig in U Saak sal hou. Ek sweer by U mag! O my God! U dienaar se skaamte is om soos ’n sluier van U uigesluit te wees, en sy glorie is om U te ken. Gewapen met die krag van U naam, kan niks my ooit seermaak nie, en met U liefde in my hart kan die hele wêreld se kwellinge my hoegenaamd nie laat verontrus nie.
Laat daal dus, o my Here, op my en op my bemindes dit wat ons sal beskerm teen die onheil van diegene wat U waarheid ontken en het en nie in U tekens geglo het nie.
U is, voorwaar, die Alglorieryke, die Mees Goedertierende.
Roem sy aan U, o Koning van die ewigheid, en die Maker van nasies, en die Vormer van elke vermolmende been! Ek bid U, by U Naam waardeur U die hele mensdom na die horison van U majesteit en heerlikheid geroep het, en U dienaars na die voorhof van U genade en gunste gelei het, om my onder diegene te tel wat hulle onstlae gemaak het van alles behalwe Uself, en hulle na U gerig het, en nie teruggehou is deur die ongelukke wat deur U verorden was nie, om in die rigting van U gawes te draai.
Ek het die handvatsel van U mildheid vasgegryp, o my Here, en standvastig aan die soom van die gewaad van U guns gekleef. Laat daal dan op my, uit die wolke van U milddadigheid, dit wat uit my die herinnering aan iemand behalwe U sal uitsuiwer, en maak my bekwaam om na Hom te keer Wat die Voorwerp van die aanbidding van die hele mensdom is, teen Wie die aanporders van oproer opgestel was, wat U verbond gebreek het, en in U en in U tekens nie geglo het nie.
Ontsê nie, o my Here, die geure van U kleding in U dae nie, en beroof my nie van die asemhaling van U Openbaring nie ten tye van die verskyning van die luister van die lig van U gelaat nie. Kragtig is U om te doen wat U behaag. Niks kan U wil weerstaan nie, nòg verydel wat U met U krag bedoel het.
Geen God is daar behalwe U nie, die Almagtige, die Alwyse.
Glorie sy aan U, o Here my God! Ek smeek U by U Naam, waardeur U die vaandels van U leiding omhoog gehef het, en die glans van U vriendelike goedheid uitgestraal het, en die oppermag van U Heerskappy bekend gemaak het; waardeur die lamp van U name binne die nis van U eienskappe verskyn het, en Hy Wat die Tabernakel van U eenheid en die Openbaring van afgetrokkenheid is, voortgeskyn het; waardeur die weë van U leiding bekend gemaak is, en die paaie van U welbehae afgemerk is; waardeur die fondamente van afwyking laat bewe is, en die tekens van slegtigheid afgeskaf is; waardeur die fonteine van wysheid uitgebars het, en die hemelse tafel daal is; waardeur U U dienaars bewaar het en U genesing toegestaan het; waardeur U U barmhartighede aan U dienaars bewys het en U vergifnis onder U skepsels bekend gemaak het - ek smeek U om hom veilig te bewaar wat vasgehou het en na U teruggekom het, en U genade omklem het, en die soom van U liefderyke voorsorg gegryp het. Laat dan U genesing op hom daal, en maak hom heel, en beklee hom met ’n standvastigheid deur U vergun, en ’n gerustheid deur U hoogheid verleen.
U is, voorwaar, die Geneser, die Bewaarder, die Helper, die Almagtige, die Kragtige, die Alglorieryke, die Alwetende.
Geloof sy U Naam, o Here my God! Ek is U dienaar wat die koord van U tere seëninge vasgegryp het, en aan die soom van U mildheid gekleef het. Ek soebat U by U Naam, waardeur U alle geskape dinge, beide die sigbare en die onsigbare, onderwerp het, en waardeur die asem wat die lewe inderdaad is, oor die hele skepping gewaai is, om my versterk met U krag wat die hemele en die aarde omvat het, en my te beskerm teen alle siektes en beproewinge. Ek getuig dat U die Here van alle name is, en die Bepaler is van alles wat U mag behaag. Daar is geen God behalwe U nie, die Almagtige, die Alwetende, die Alwyse.
Beskik U vir my, o my Here, wat my in elke wêreld van U wêrelde sal baat. Voorsien my, dan, van wat U vir die uitverkorenes onder U skepsels neergeskryf het, wat nòg die blaam van die blameerder, nòg die geroep van die ongelowige, nòg die vervreemding van dié wat hulle aan U onttrek het, teruggehou het om hulle nan U te wend.
U is, voorwaar, deur die krag van U opperwese, die Hulp in Gevaar. Geen God is daar behalwe U nie, die Almagtige, die Kragtigste.
O God, Wat die Maker van alle Openbaarwordinge is, die Bron van alle Bronne, die Fontein van alle Openbaringe, en die Oorsprong van alle Ligte! Ek getuig dat deur U Naam die hemel van insig versier is, en die oseaan van uitspraak gegolf het, en die bedelings van U voorsienigheid bekend gemaak is aan die volgelinge van alle godsdienste.
Ek smeek U om my sodanig te verryk dat ek sonder alles behalwe U kan klaarkom, en onafhanklik van almal buiten U gemaak sal word. Laat reën dan op my uit die wolke van U mildheid dit wat my sal baat in elke wêreld van U wêrelde. Help my dan deur middel van U versterkende guns om U Saak só onder U dienaars te dien dat ek aan die dag mag lê wat sal maak dat ek onthou sal word so lank as U eie koninkryk sal duur en U heerskappy sal aanhou.
Hierdie is U dienaar, o my Here, wat hom met sy hele wese na die horison van U mildheid gewend het, en die oseaan van U guns, en die hemel van U gawes. Maak dan met my soos dit U majesteit betaam, en U heerlikheid, en U milddadigheid, en U genade.
U is, in der waarheid, die God van sterkte en krag, vir Wie dit passend is om diegene te verhoor wat tot U bid. Daar is geen God behalwe U nie, die Alwetende, die Alwyse.
Verheerlik sy U Naam, o my God, omdat U die Dag geopenbaar het wat die Koning van Dae is, die Dag wat U aan U Uitverkorenes en U Profete in U mees voortreflike Tafels aangekondig het, die Dag waarop U die prag van die glorie van al U name op alle geskape dinge uitgestraal het. Groot is die geluksaligheid van wie ook hom in U rigting ingestel het, en in U teenwoordigheid ingegaan het, en die nadrukke van U stem gevang het.
Ek smeek U, o my Here, in die naam van Hom rondom Wie die Koninkryk van U name in aanbidding wentel, dat u diegene wat vir U dierbaar is goedgunstiglik sal help om U woord onder U dienaars te verheerlik, en om U lof onder U skepsels te laat uitstraal, sodat die verrukkings van U Openbaring die siele van alle bewoners van U aarde Mag vul.
Aangesien U, o my Here, hulle gelei het na die lewende waters van U genade, vergun, deur U milddadigheid, dat hulle nie terggehou sal word van U nie; en aangesien U hulle laat roep het na die woonplaas van U troon, drywe hulle nie weg uit U teenwoordigheid nie, deur U vriendelike goedheid. Laat daal op hulle wat hulle volkome van alles behalwe U sal afsonder, en stel hulle in staat om in die atmosfeer van U nabyheid te sweef, op so ’n manier dat nòg die oorhand van die verdrukker nòg die suggesties van diegene wat nie in U en in U mees verhewe en mees magtige Self geglo het nie, bekwaam sal wees om hulle van U terug te hou nie.
O U Wie se nabyheid my wens is, Wie se teenwoordigheid my hoop is, Wie se aandenking my begeerte is, Wie se gloriehof my doel is, Wie se woonplek my strewe is, Wie se naam my genesing is, Wie se liefde die glans van my hart is, Wie sie diens my hoogste strewe is! Ek smeek U by U Naam, waardeur U diegene wat U herken het in staat gestel om na die verhewenste hoogtes van die kennis van U te sweef en dié wat U toegewyd aanbid in staat gestel het om op te styg na die omgewing van die voorhof van U heilige gunste, om my te help om my gesig na U gesig te wend, om my oë op U te rig, en om van U heerlikheid te praat.
Ek is die een, o my Here, wat alles behalwe U vergeet het, en my na die Daeraad van U genade gewend het, wat alles behalwe Uself verlaat het in die hoop om tot U voorhof te nader. Aanskou my dan, met my oë opgehef na die Setel wat skyn met die prag van die lig van U Aangesig. Laat daal dan op my, o my Beminde, dit wat my in staat sal stel om standvastig in U Saak te wees, sodat die twyfelinge van die ongelowiges my nie mag hinder om my na U te wend nie.
U is, voorwaar, die God van Krag, die Hulp in Gevaar, die Alroemryke, die Almagtige.
Verheerlik is U, o my God! Ek lewer U dank dat U Hom Wat die Daeraad van U barmhartigheid is en die Bron van u genade, en die Bewaarplek van U Saak, aan my bekend gemaak het. Ek smeek U by U Naam, waardeur die gelate van diegene wat naby is wit geword het, en die harte van dié wat toegewyd aan U is na U gevlieg het, om te vergun dat ek te alle tye en onder alle omstandighede aan U koord mag vashou, en ontslae mag wees van alle gehegtheid aan enigeen behalwe U, en my oë in die rigting van die horison van U Openbaring gevestig mag hou, en uitvoering mag gee aan wat U vir my in U Tafels voorgeskryf het.
O my Here, beklee beide my innerlike en uiterlike wese met die kleding van U gunste en U vriendelike goedheid. Hou my veilig, dan, teen wat ook al afstootlik vir U mag wees, en help my en my soortgenote genadiglik om U te gehoorsaam, en om alles wat enige onheil of verdorwe wens in my verwek te vermy.
U is waarlik die Here van die hele mensdom, en die Besitter van hierdie wêreld en die hiernamaals. Geen God is daar behalwe U nie, die Alwetende, die Alwyse.
Verheerlik sy U Naam, o my God en die God van alle dinge, my Glorie en die Glorie van alle dinge, my Begeerte en die Begeerte van alle dinge, my Sterkte en die Sterkte van alle dinge, my Koning en die Koning van alle dinge, my Besitter en die Besitter van alle dinge, my Doel en die Doel van alle Dinge, my Beweger en die Beweger van alle dinge! Laat my nie, ek smeek U, teruggehou word van die oseaan van U tere barmhartigheid nie, nòg ver verwyder wees van die oewers van nabyheid aan U nie.
Niks behalwe U, o my Here, baat my, en nabye toegang tot enigeen buiten Uself baat my niks nie. Ek smeek U by die oorvloedigheid van U rykdom, waarby U alles behalwe Uself agterweë gelaat het, om my by diegene te tel wat hulle aangesig na U gerig het, en opgestaan het om U te dien.
Vergewe, dan o my Here, U diensknegte en U diensmaagde. U is werklik die Altyd-Vergewende, die Mees Medelydende.
Menige verkoelde hart, o my God, is met die vuur van U Saak aan die brand gesteek, en menige sluimeraar is deur die soetheid van U stem wakker gemaak. Hoeveel is die vreemdelinge wat skuilplek in die skaduwee van die boom van U eenheid nie gesoek het nie, en hoe talryk die dorstiges wat na die fontein van U lewende waters in U dae nie gehunker het nie!
Geluksalig is hy wat homself na U ingestel het, en haas gemaak het om die Daeraad van die ligte van U gesig te bereik. Geluksalig is hy wat hom met al sy toegeneentheid na die Ligtbron van U Openbaring en die Fontein van U besieling gewend het. Geluksalig is hy wat in U pad bestee het wat U hom geskenk het deur U mildheid en gunsbewys. Geluksalig is hy wat, in sy hewige verlange na U, alles behalwe U verwerp het. Geluksalig is hy wat intieme omgang met U beleef het, en homself bevry het van alle gehegtheid aan enigeen behalwe U.
Ek smeek U, o my Here, by Hom Wat U Naam is, Wat, deur die krag van U opperheerskappy en mag, bo-oor die horison van Sy gevangenis verrys het, om vir elkeen te beskik wat U betaam en U verhewenheid pas.
U mag is, in der waarheid, tot alle dinge in staat.
Geloof sy U Naam, o my God! Ek smeek U by die geure van die Gewaad van u guns, wat op U gebod en in ooreenstemming met U wens deur die hele skepping versprei is, en by die Dagster van U wil wat helder skyn, deur die krag van U mag en U soewereiniteit, bo die horison van U genade, om alle nuttelose inbeeldinge en ydele verbeeldinge uit my hart te wis, sodat ek met al my toegeneentheid my na U toe mag wend, o U die Here van die hele mensdom!
Ek is U dienaar en die seun van U dienaar, o my God! Ek het die kruk van U genade vasgegryp, en die koord van U tere genade omklem. Beskik vir my die goeie dinge wat by U is, en voed my van die Tafel wat U uit die wolke van U mildheid en die hemel van U begunstiging laat daal het.
U is, in werklikheid, die Here van die wêrelde, en die God van almal wat in die hemel en almal wat op aarde is.
Verheerlik sy U Naam, o Here my God! U is Hy Wat alle dinge aanbid en Wat niemand aanbid nie, Wat die Here van alle dinge is en die kneg van niemand nie, Wat alle dinge is en deur geeneen geken word nie. U wou Uself aan die mens bekend maak; daarom het U, deur middel van ’n woord uit U mond, die skepping in die lewe geroep en die heelal gevorm. Daar is geen ander God behalwe U nie, die Vormer, die Skepper, die Almagtige, die Kragtigste.
Ek smeek U, by hierdie einste woord wat bó die horison van U wil voortgeskyn het, om my in staat te stel om diep van die lewende waters te drink waardeur U die harte van U gekosenes verlewendig het en die siele van diegene wat U bemin opgewek het, dat ek altyd en onder alle omstandighede my aangesig geheel na U mag wend.
U is die God van krag, van heerlikheid en mildheid. Geen God is daar behalwe U nie, die Opperste Heerser, die Alglorieryke, die Alwetende.
Verheerlik sy U Naam, o Here my God! Ek smeek U by U Naam waardeur die uur aangebreek het, en die Opstanding gekom het, en vrees en bewing almal wat in die hemel en op die aarde is bevang het, om te laat reën, vanuit die hemel van U genade en die wolke van U tere ontferming, dit wat die harte sal verheug van U dienaars wat na U gekeer het en U Saak gehelp het.
Hou U diensknegte en diensmaagde veilig, o my Here, teen die pyle van ydele inbeeldings en nuttelose verbeeldinge, en gee hulle met die hande van U genade ’n sluk van die saggies vloeiende waters van U kennis.
U is waarlik die Almagtige, die Mees Verhewe, die Altyd-Vergewende, die Mees Vrygewige.
O U Wie se aangesig die oogmerk van my huldiging is, Wie se prag my toevlugsoord is, Wie se woning my doel is, Wie se roem my hoop is, Wie se voorsiening my metgesel is, Wie se liefde die oorsaak van my bestaan is, Wie se melding my troos is, Wie se nabyheid my begeerte is, Wie se aanwesigheid my dierbaarste wens en hoogste strewe is, ek smeek U om nie daardie dinge wat U beskik het vir die uitverkorenes onder U dienaars van my te weerhou nie. Voorsien my dan van die goeie dinge van hierdie wêreld en van die aankomende.
U is waarlik die Koning van alle mense. Daar is geen God behalwe U nie, die Altyd-Vergewende, die Vrygewigste.
OM EENKEER IN VIER-EN-TWINTIG UUR,
TEEN MIDDAG GESÊ TE WORD
Ek getuig, o my God, dat U my geskape het om U te ken en U te aanbid. Ek getuig op hierdie oomblik my magteloosheid en U mag, my argmoede en U rykdom.
Daar is geen ander God buiten U nie, die Hulp in Gevaar, die Selbestaande.
*“Daar is drie daaglikse verpligte gebede. . . .Dit staan die gelowige heeltemal vry om enigeen van hierdie drie gebede te kies, maar hy word verplig om een van hulle te sê, en volgens enige uitdruklike aanwysings waarmee hulle gepaard gaan.” Uit ’n brief geskryf namens Shoghi Effendi